GEBAKTE BLOMKOOL

Bestanddele

500 tot 600 g blomkool of broccoli, gewas
4 tot 5 snye witbrood
100 tot 200 ml preie, fyn gesny
2 eiers
500 ml kookmelk
2 ml sout
knippie peper
5 ml fyn neutmuskaat
100 g Cheddar-kaas, gerasper
klontjies botter

 

Metode

Sny blomkool of broccoli in stukke en kook in soutwater tot sag. Dreineer baie goed.

Verwyder broodkorsies en krummel snye grof. Smeer diep bak en skep beurtelings krummels, preie en blomkool of broccoli daarin.

Klits eiers, melk, sout, peper en neutmuskaat saam tot skuimerig en giet bo-oor groente.

Strooi kaas oor en stip met botter. Laat minstens een uur lank staan.

Bak omtrent 50 minute lank teen 180 Grade C. Lewer 4 tot 6 porsies.

 

Bron:  Peterjasie & Huisgenoot Wenresepte