Suurlemoen-papawersaadharte

Bestanddele

Deeg

680 ml koekmeel
2 ml sout
2 ml bakpoeier
250 ml sagte botter
310 ml witsuiker
1 eier
30 ml papawersaad
10 ml fyn gerasperde suurlemoenskil
5 ml vanieljegeursel

Vulsel

200 g ongegeurde roomkaas
90 ml strooisuiker
2 ml suurlemoengeursel
2 ml fyn gerasperde suurlemoenskil

Metode

Meng die meel, sout en bakpoeier saam.

Verroom die botter en suiker goed en klits die eier, papawersaad, suurlemoenskil en vanieljegeursel by. Voeg by die droë bestanddele en maak aan tot ‘n deeg. Draai die deeg in kleefplastiek toe en verkoel vir minstens 1 uur.

Voorverhit die oond tot 160 °C en voer ‘n paar bakplate uit met bakpapier.

Verdeel die deeg in twee, draai die een deel weer toe en verkoel tot later. Rol die een stuk deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak.

Gebruik ‘n hartjievormige koekiedrukker en druk vorms uit. Pak op die bakplate en bak vir ongeveer 15 minute of tot die koekies begin verkleur. Laat vir ‘n paar minute op die plate afkoel voor dit op draadrakke gesit word om heeltemal af te koel.

Haal die tweede stuk deeg uit die yskas en herhaal die proses. Bêre die koekies in ‘n lugdigte houer tot reg om te gebruik. 

Lewer 48 dubbele koekies.

Vulsel: Klits al die bestanddele goed saam tot lig en donsig. Plak koekies daarmee op mekaar en sit dadelik voor.

Nota: Gebruik egte roomkaas en nie geroomde maaskaas vir die vulsel nie. Maaskaas sal ‘n loperige vulsel tot gevolg hê.

 

Bron:  Landbou.com