Sampioensop

Bestanddele

45 ml olyfolie

45 ml botter

1 ui, grofgekap

2 knoffelhuisies, gekap

200 g portabellini-sampioene, grofgekap

2 takkies origanum, fyngekap

500 ml hoenderaftreksel

250 ml laevet-room

sout en varsgemaalde swartpeper

Metode

Verhit olie en botter tot warm in middelslag-pot. Voeg ui en knoffel by. Verlaag hitte en laat mengsel sweet tot lig en deurskynend.

Voeg sampioene en origanum by en braai stadig tot sampioene sag en gaar is.

Voeg aftreksel by en verlaag hitte. Laat stadig oop prut tot vloeistof helfte minder is.

Voeg room by en laat prut tot weer met helfte verminder het. Geur goed met sout en swartpeper.

Puree sop tot glad in voedselverwerker. Sit warm voor.

 

Bron:  Sarie