Beesvleispastei

Bestanddele

15 ml (1 e) botter
30 ml (2 e) olie
2 uie, in skyfies gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk
600-700 g beesstowevleis, in klein blokkies gesny
sout en vars gemaalde
peper
60 ml (¼ k) koekmeel
30 ml (2 e) tamatiepasta
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
500 ml (2 k) beesvleisaftreksel
15 ml (1 e) suiker
500 g skilferkorsdeeg
1 eiergeel

Metode

  1. Verhit die botter en 15 ml (1 e) van die olie in ’n middelslagkastrol. Braai die uie en knoffel tot gekaramelliseer.
  2. Skep uit en hou eenkant.
  3. Geur die vleis met sout en peper en sprinkel die meel oor. Verhit 15 ml (1 e) olie in die kastrol en braai die vleis in sarsies tot effens bruin. Voeg die uiemengsel en tamatiepasta by die vleis en roerbraai ’n minuut.
  4. Voeg die gekapte tamaties en aftreksel by en laat prut ongeveer 1 uur en 40 minute tot die vleis sag is. Voeg af en toe nog water by en roer sodat dit nie vasbrand nie. Geur met die sout, peper en suiker na smaak. Skep die vleis in ’n pasteibak of in 4 kleiner bakkies.
  5. Verhit die oond tot 180 °C. Rol die deeg liggies uit, dieselfde grootte as die pasteibak of -bakkies en druk bo-op die vleis vas. Verf met die eiergeel en bak 20 minute in die verhitte oond.

Bron:  Huisgenoot           Foto:  Huisgenoot