
Piesangkoek met karamelversiersel
Bestanddele:
150 g botter
250 ml (1 k) strooisuiker
125 ml (½ k) bruinsuiker
3 eiers
500 ml (2 k) meel, gesif
7 ml (1½ t) bakpoeier
10 ml (2 t) fyn kaneel
200 ml suurroom
3 piesangs, fyngemaak
Bolaag:
125 ml (½ k) strooisuiker
50 g botter
125 ml (½ k) dikroom
1 piesang, in skywe gesny
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n diep ringpan goed.
Metode:
Plaas die botter, strooisuiker en bruinsuiker in ’n bak en klits tot vaal en romerig.
Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging.
Vou die meel, bakpoeier en kaneel in.
Voeg die suurroom en piesangs by en roer tot gemeng.
Skep die mengsel in die bereide bakpan en bak 50 minute of tot gaar ( ’n toetspen moet skoon uitkom wanneer dit in die middel ingedruk word).
Bolaag: Verhit die suiker in ’n pan oor matig-lae hitte 1 minuut of tot dit aan die kante begin smelt. Voeg die botter by en roer met ’n klitser. Giet die room in terwyl jy roer en hou aan roer tot dik. Giet oor die koek.
Bedek met piesangskywe en sit voor.
Bron: Huisgenoot