Jan Braai se Lamslendetjops

Jan Braai se Lamslendetjops

Wat jy nodig het (vir 4 mense):

12 lendetjops

2 knoffelhuisies

1 sopie (25 ml) vars roosmaryn (of tiemie of origanum, sien die opsies hiernaas)

1 sopie suurlemoensap (vars uitgedruk)

2 sopies olyfolie

growwe seesout en swartpeper

 

Metode

1. Maak een of twee klein snitte deur die vetstrook van elke tjop. Dit sal keer dat die tjops buig wanneer die vet gaar word en saamtrek. Jou gaste sal dan ook kan sien dat jy aandag gee aan detail in die voorbereiding van hul ete en ons almal weet dat die voorkoms van kos net so belangrik soos die smaak is.

2. Kneus die knoffel of kap dit fyn, stroop die roosmarynblare van die stingel af en voeg by die suurlemoensap en olyfolie. Roer dan die tjops daarin rond sodat die vleis albei kante met ’n lagie marinade bedek is.

3. Laat die vleis marineer so lank dit die vuur neem om uit te brand en kole te maak. As jy die vleis oornag wil laat marineer, doen dit gerus, maar voeg dan die suurlemoensap eers by wanneer jy die vuur aansteek. Suurlemoensap is ’n kerndeel van dié resep, maar dit is heeltemal te aggressief om oornag saam met die delikate lendetjops deur te bring.

4. Braai die tjops vir 8 tot 12 minute oor warm kole totdat hulle daardie punt tussen medium-rou en halfgaar bereik waar lam die lekkerste smaak. Lendetjops wissel nogal in grootte en hoe warm jou vuur is, sal ook ’n rol speel in hoe lank dit neem om hulle te braai. Onthou die goue reël: As jy dink hulle is reg, is hulle waarskynlik reg. Besonder klein lamstjoppies is al ná 6 minute reg. Gebruik jou goeie oordeel.

5. Maal die sout en peper oor die tjops terwyl hulle braai. As jy lui is, kan jy dit doen voordat hulle kole toe gaan. 

 

Wenk:

Die ander spesery wat altyd goed werk saam met lamsvleis is koljander. Koop gedroogde koljandersaad en maal dit met jou stamper en vysel fyn. Strooi oor die tjops voor of terwyl hulle braai. Dikker lendetjops moet so gebraai word dat drie kante van die tjop (die twee “gewone” kante en ook die vetstrook om die rand) elk ’n beurt kry om kole toe te wys. Braai eers die twee gewone kante en balanseer dan die tjops teen mekaar met die vetstroke aan die kole se kant. So sal die vet lekker bros braai.

Jy kan ook al die tjops saam op ’n sosatiestokkie inryg. Braai eers die vetkant vir ’n minuut of drie. Trek dan die stokkie uit en braai die twee vleiskante.

’n Kombinasie van roosmaryn, olyfolie en knoffel is ook ’n gewilde keuse vir lamsvleis.

 

Bron:  Netwerk 24 - Kos en Wyn (Oor die kole met Jan Braai)

Foto:  Netwerk 24 - Kos en Wyn (Oor die kole met Jan Braai)

 
8,631 kere besoek
Cleo's Braai Pie - Cheezy

Skons

Sien

Stokkie-worsrolletjies

Sien

Sjokolade Sponskoek

Sien

Ertjie, Bone en Spek Tert

Sien