
Hierdie resep het ek by 'n kollega gekry. Die geheim is om die resep die vorige dag al te begin! 'n Moet vir elke braai of Kerstafel!
Die hoofbestandeel is dobbelsteentjies witbrood wat goudbruin gebraai moet word, nadat jy so 8 skywe in blokkies gesny en dit gebraai het moet jy die broodblokkies laat dreineer, ek gebruik kombuispapier (roller towel) en ruil die papier met "vars" papier elke 4 tot 8 uur. Dit moet so 1 dag lank staan om behoorlik te dreineer. Die croutons wat jy by Woolies koop is te hard vir hierdie slaai, dit werk baie goed as jy die dobbelsteentjies eerder self maak.
Wanneer jy reg is om die slaai voor te sit gooi jy die volgende in 'n slaaibak bymekaar:
BESTANDDELE:
VIR SLAAI:
- Blokkies brood soos bo beskryf
- 125g (1 koppie) cheddar kaas in klein blokkies gesny
- 75g (halwe koppie) agurkies in skywe gesny
- 3 hardgekookte eiers, gerasper
VIR MOSTERTSOUS:
- 4 eiers
- 50g (60ml) suiker
- 15ml mosterdpoeier (ek gebruik english mustard powder)
- 25ml water
- 50ml wit asyn
- 125ml mayonnaise
- 30ml room of romerige melk
METODE:
- Klits die eiers tot 'n skuim in 'n pot
- Klits die suiker lepelsgewys by
- Meng die mosterdpoeier met die water en voeg by die asyn by
- Voeg die asyn/water/mosterd mengsel by die eiers in (in die pot)
- Roer die sous oor matige hitte totdat dit begin verdik
- Klits die sous nou met 'n eierklitser terwyl dit in die warm pot is
- Haal dit van die stoof af en laat afkoel
- Roer daarna die mayonnaise en room by
- Gooi oor die Slaai
WENK: Roer die eiermengsel wat moet kook op die stoof heeltyd sodat dit nie "skif" nie.